Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 51

16 Februarie

Оглавление

Nehemia 6:1–14

Christelike besluitneming

Ek het gesê: Sal ’n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie! – Neh 6:11

~

Wanneer jy moeilike besluite moet neem, neig jy om dit uit te stel of te vermy solank jy kan. Hierdie gesindheid bring egter net onsekerheid en selfverwyt. Om ’n lewe van vrede en gemoedsrus te ken, moet jy biddend opsien na die Leidsman en die Voleinder van jou geloof en jou beslissings maak. Hoe langer ’n mens dit uitstel, hoe swaarder lê dit op jou gemoed. Dan word die lewe vir jou ’n las en word jy maklik die prooi van terneergedruktheid of depressie.

Wanneer jy ’n belangrike beslissing moet neem, moet jy nie daarvan wegdraai of dit probeer vermy nie. Dit sal nie maar net verdwyn nie. Neem God in jou vertroue en stel dit biddend en gelowig aan Hom. Stel jou gemoed oop vir die werking van die Heilige Gees. Hy sal jou lei om God se wil te ken. Hy sal jou ook krag gee om met Christelike waagmoed die regte besluit te neem en uit te voer.

Daar is ’n tyd om besluite te neem. As dit verspeel word deur twyfel of uitstel, is dit vir altyd verby en die nadelige gevolge kan onuitwisbaar wees. Om na die wil van God in gehoorsaamheid te besluit en te handel, bring vrede in jou gemoed.

Vader, ek kom bespreek met U die deurslaggewende besluite in my lewe en dank U opreg vir die leiding van u Heilige Gees.

Kies die lewe

Подняться наверх