Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 64

29 Februarie (Skrikkeljaar)

Оглавление

Matteus 6:5–14

’n Betekenisvolle byvoegsel

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. – Matt 6:13 (1933-vertaling)

~

In die 1983-vertaling is daar ’n voetnoot wat aandui dat hierdie vers nie in die vroegste tekste van die “Ons Vader” aanwesig was nie. Dit is op ’n la­ter tydstip deur ’n skrywer bygevoeg. Waarskynlik kon hy dit nie weer­staan om, gedronge deur die skoonheid van Christus se modelgebed, jubelend te roem in die almag, heerlikheid en grootheid van God nie. ’n Betekenisvolle gebed op hierdie dag in Februarie, wat elke skrikkeljaar bygevoeg word om die kalender reg te stel – ’n ekstra dag om God te loof.

God is Koning! Koning van die heelal; van hemel en aarde; van tyd en ruim­te. Hy heers vir ewig in sy skepping en in die harte van sy kinders. Alles is aan Hom onderworpe. Hy hou alles in sy bewarende hand. Wanneer God se heerskappy en sorg deur Jesus Christus se versoeningswerk oor ons lewe uitbrei, bring dit vir ons vrede en veiligheid. Hy het sonde en dood oorwin. In sy almag het Hy Jesus Christus uit die dood opgewek en het Hy daarmee sy kinders van ’n ewige lewe gewaarborg waarin hulle deelgenote van sy heerlik­heid kan wees.

“Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid” (Op 7:12).

My hart het U as Koning gekies, o God; deur Jesus Christus staan ek onder u heerskappy van liefde; u almag dra my van dag tot dag. My liefde vir U is nie ’n byvoegsel nie, maar ’n wesenlike deel van my aanbidding.

Kies die lewe

Подняться наверх