Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 10

Оглавление

VRYDAG 4 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 3:14–24

Sonde vernietig

“Stof is jy, en jy sal weer stof word” (Gen 3:19).

GESELSVRAAG: Hoekom is dit goed om te weet die lewe is tydelik?

“Mamma, Dominee sê dat mense uit stof gemaak is. Hy sê ook dat ons eendag weer stof gaan word.” “Dis waar, Jannie. Wat wil jy vra?” “Mamma moet kom kyk. Daar onder my bed is daar iemand besig om te kom of te gaan.”

Die hartseergeskiedenis wat ons vandag gelees het, lui die tema in wat ons weer en weer in die Bybel lees: Die ongehoorsaamheid van een oomblik kan ’n leeftyd van spyt meebring. Ons het dus nodig dat die Here ons keer op keer herinner aan wat reg is, sodat ons die regte keuses sal maak. Adam en Eva se huwelik het ’n lelike knou gekry. Hulle het gedink hulle doen reg toe hulle ongehoorsaam was – die versoeking het tog so logies geklink – maar nou ly die hele wêreld en ook hul nageslag aan die gevolge.

Versoekings is altyd aantreklik – anders sou ons tog nie daarvoor geval het nie. Maar die bitter vrugte wat op die toegewing aan versoeking volg, wys vir ons waarom ons liefdevolle Hemelvader ons wil voorkeer sodat ons nie seerkry nie. Kom ons neem ons voor om elke dag na God se Stem te luister, sodat ons staande kan bly.

Hierdie geskiedenis herinner ons ook daaraan dat die lewe maar net tydelik is. Ons is op pad na die ewigheid. Daarom moet ons ons tyd, en die mense en besittings wat die Here aan ons toevertrou, só bestuur dat dit ewigheidswaarde kan hê.

GEBED: “Here, bewaar ons vandag teen versoekings.”

Lees vanaand Genesis 4:1–16 en let op die drie draaipunte in Kain se lewe.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх