Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 7

Оглавление

DINSDAG 1 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 1:1–13

Nuwejaarsdag

God se Woord gee lig

“Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig” (Gen 1:3).

GESELSVRAAG: Hoe sou die skepping gelyk het sonder lig van enige aard?

“Hoekom praat hulle van die donker Middeleeue?” vra ’n leerder aan sy onderwyser. “Dit is omdat die Bybel in daardie tyd toegesluit gehou is, en die gewone mense nie toegelaat was om dit te lees nie,” was haar antwoord. “Dit is eers toe die Bybel gedurende die Hervorming in die taal van gewone mense vertaal en in groot getalle gedruk is dat die mense die waarheid van die Woord ontdek het. En dit het miljoene mense se lewens verander.”

Ons soek almal lig vir die nuwe jaar. Waar sal ons dit kry? Die Bybel sê: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (1 Joh 1:5). “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is,” getuig Dawid in Psalm 119:130.

Waar ons die nuwe jaar saam begin, en vir mekaar ’n voorspoedige Nuwejaar toewens, kan ons begin deur vir mekaar die nodige lig toe te wens, sodat ons die regte keuses sal maak. Die Bybel is bedoel om lewens te verander, en dit sal ook met jou in hierdie jaar gebeur as jy gewillig is om na God se Woord te luister. Dan word jy ook deel van die lig vir die wêreld (Matt 5:14). Kom ons skyn vir die Here op hierdie dag vir elkeen wat ons gaan ontmoet.

GEBED: “Here, gee my u lig, sodat ek lig kan wees.”

Lees vanaand Genesis 1:14–25 en let op hoe die tweede stel van drie dae by die eerste drie pas.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх