Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 14

Оглавление

DINSDAG 8 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 6:13–22

Geloof lei tot gehoorsaamheid

“Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het” (Gen 6:22).

GESELSVRAAG: Wat moet jy doen as jy voel dat God jou ’n opdrag gee?

“Die meeste mense is al so hard tot gepreek dat hulle nie God se Woord meer ernstig opneem nie,” kla ’n student wat deelgeneem het aan ’n uitreik in Stellenbosch se omgewing. En baie predikante kom ook tot daardie slotsom as hulle week na week hul harte uitpreek en daar geen reaksie is nie.

Min mense het so ’n lewende verhouding met die lewende God dat hulle God se opdrag in besonderhede verstaan, soos ons hier van Noag lees. Die Here het hom presies voorgesê wat om te doen. Dit was ’n onmoontlike opdrag. Dink net hoeveel bome moet jy afkap om ’n skip te bou wat heelwat langer as ’n rugbyveld is! En drie verdiepings hoog. En dan moet jy genoeg voer vir ’n jaar daarin laai, nog voordat die eerste dier opgedaag het. En die skip moet heeltemal waterdig gemaak word – jy kry nie ’n tweede kans nie.

Noag wil ons iets leer van gehoorsaamheid. “Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. … Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom” (Heb 11:7). Die Here Jesus het meermale na hom verwys (Matt 24:37; Luk 17:26).

GEBED: “Here, help my vandag luister en gehoorsaam.”

Lees vanaand in Genesis 7:1–12 hoe die begin van die vloed beskryf word. Let op die klem op gehoorsaamheid.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх