Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 21

Оглавление

DINSDAG 15 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 12:10–20

Vrees lei tot leuens

“Waarom het jy my nie gesê sy is jou vrou nie?” (Gen 12:18).

GESELSVRAAG: Wanneer raak ons so maklik oneerlik? Noem op.

“Dis nie ek nie, dis Sussie,” sê ons kleinseun met ’n onskuldige gesiggie, al was hy die skuldige. Ai, die erfsonde darem! “Al loop die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel,” sê die spreekwoord. “Dit is moeilik om te glo dat iemand anders die waarheid praat, as jy self in sy plek sou gelieg het,” het Henry Louis Mencken iewers geskryf. “Iemand wat glo ’n wit leuentjie is toelaatbaar, word gou kleurblind,” het iemand anders gesê.

Selfs die geloofsheld, Abram, het ook maar sy swak oomblikke gehad. Hy was bang dat die Egiptenaars hom sou doodmaak ter wille van sy mooi vrou, en was selfsugtig genoeg om haar liewer op te offer om sy eie voordeel te verseker. Is dit hoe ’n geloofsheld maak? God het seker gemaak dat die waarheid uitkom. God haat leuens. Dit is een ding wat jou uit die hemel sal hou (Op 21:8).

Ons moenie vir Abram so gou veroordeel nie. Wie van ons kan eerlik sê dat ons nog nooit ’n leuen vertel het nie? As jy dít sê, is dit beslis ’n leuen. Praat jy net die hele waarheid as jy iemand anders bespreek? Erken jy jou skuld as die verkeerskonstabel jou voorkeer? Vul jy jou inkomstebelastingvorm pynlik eerlik en volledig in? Is jy altyd eerlik teenoor jou lewensmaat of jou kinders? En as jy jou ou skedonk wil verkoop? Kom ons wees vandag op ons hoede vir die versoeking van leuentaal.

GEBED: “O God van waarheid, bewaar my van leuens.”

Lees vanaand in Genesis 13:1–11a hoe Lot se selfsug hom in die gevaarsone laat beland het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх