Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 16

Оглавление

DONDERDAG 10 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 8:13–22

Saam op pad

“Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en hulle vrouens” (Gen 8:16).

GESELSVRAAG: Hoe weet ons dat die Here altyd by ons is?

“Die Here sê nie vir Noag ‘Kom uit die ark’ nie, maar ‘Gaan uit die ark uit’. Dit impliseer dat God die hele tyd saam met hulle in hierdie tyd van gevaar en afsondering was,” skryf Matthew Henry as hy hierdie gedeelte behandel. En dit is ’n troos vir ons, maak nie saak wat ons omstandighede vandag is nie.

“Die TV-evangeliste in Indië verkondig ’n voorspoedteologie. As jy net na Jesus toe kom (en groot donasies aan hulle gee), sal dit altyd voorspoedig met jou gaan. Jy is ’n koningskind, en jy moet dus met duur motors ry en altyd gesond wees,” vertel my kollega uit Indië. Daardie soort boodskap is natuurlik nie waar nie. Jesus en sy apostels het diep armoede geken, en Paulus en sy medewerkers het gesondheidsprobleme ervaar al was hulle gelowig en al was hulle aan die Here gehoorsaam. Die Here belowe nie noodwendig voorspoed nie, maar wel dat Hy in alle omstandighede saam met ons sal wees.

Jy voel dalk ook dat jy die laaste ruk in ’n ark ingehok was, sonder uitkomkans. Wees maar rustig. Die Here weet alles, want Hy is daar saam met jou.

GEBED: “Baie dankie dat U in elke omstandigheid saam met my is, Here.”

Lees vanaand Genesis 9:1–11 en let op die maniere waarop die Here die mens se lewe beskerm.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх