Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 15

Оглавление

WOENSDAG 9 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 7:13–24

Plek van veiligheid

“Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar” (Gen 7:23).

GESELSVRAAG: Waar is die veiligste plek in krisistye?

“Die land is tans so onveilig. Moet ons nie maar liewer na ’n ander land emigreer nie?” is ’n vraag waarmee baie landgenote tans worstel. En dan emigreer hulle weens die misdaadvlaag in Suid-Afrika, en word in Australië beroof of in Kanada vermoor. Die beste plek om te wees is in die middel van God se wil. En dit is wat die verhaal van Noag ons wil leer.

Baie mense betwyfel deesdae of daar werklik so iemand was. Maar as hy nie gelewe het nie, dan het Esegiël God verkeerd gehoor (Eseg 14:14), dan was Jesus ’n leuenaar (Matt 24:37) en dan was Petrus op ’n dwaalspoor (1 Pet 3:20; 2 Pet 2:5). Ons moet onthou dat die Bybel nie as ’n geskiedenisboek of wetenskaphandleiding bedoel is nie, maar om lewens te verander (2 Tim 3:14–17). Ons moet dus altyd soek na die boodskap wat vir ons bedoel is. As ons dit kan verstaan, sal dit ons lewe ook verander.

’n Boom word aan sy vrugte geken. Kyk mooi wat gebeur as iemand die Bybel ernstig opneem. Sy lewe verander ten goede. En as iemand die Bybel verwerp? Dan loop alles sommer verkeerd. Verstaan dus dat Christus die enigste manier is om gered te word. Hy lewe en wil sy ewige lewe in jou oorplant. Slegs dan sal jy vir ewig veilig wees. En jou huisgesin ook (Hand 16:31).

GEBED: “Here Jesus, ek vertrou op U. Red my en my huisgesin.”

Lees vanaand in Genesis 8:1–12 hoe Noag probeer vasstel het hoe laag die vloed gedaal het. Hoe meet jy jou uitdagings?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх