Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 18

Оглавление

SATERDAG 12 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 10:13–32

Familie sonder grense

“Uit húlle het die nasies oor die aarde versprei ná die oorstroming” (Gen 10:32).

GESELSVRAAG: Waar het ons oral familie?

“Ja, dit is net soos jul witmense is,” verklaar ’n plakker met oortuiging. “Julle klim in die ark in en seil weg, en julle los die res van ons buite sodat ons almal verdrink.” Hy het seker nie mooi gedink nie. As sy voorouers almal verdrink het, dan het hy mos nie bestaan nie!

As daar een ding is wat die Bybel vir ons wil duidelik maak, is dit dat alle mense familie is. Sommige van ons is meer bevoorreg as ander, maar ons bly familie. Ook in ’n ander opsig word ons familie, die oomblik as ons Jesus Christus as Verlosser aanneem (Joh 1:12). Jy word ’n broer of suster van elke ander kind van God. Maar ’n mens voel darem nader aan sommige as aan ander. Ek onthou eenkeer toe ek by ’n sendingkonferensie in Singapoer was, en ’n Xhosa-kollega daar instap. Skielik het ek baie nader aan hom gevoel as aan die Amerikaners en Australiërs wat in die meerderheid was. Ons was albei van Afrika! Ons is broers!

Daarom is dit so hartseer as xenofobie mense uit mekaar dryf. Ons sien mense as ’n bedreiging in plaas van ’n geleentheid. Tydens ons eerste besoek aan Hongkong het ons die eerste Sondag na ’n internasionale erediens in die hotel gegaan. Die Sjinese gelowiges het moeite gedoen om ons tuis te laat voel. Dit het ons beskaam, want ons kon ons toe voorstel hoe daardie Sjinese gelowiges in ons tuisgemeente verwelkom sou word! Of nie.

GEBED: “Dankie dat ons aan u familie kan behoort, Hemelvader.”

Lees vanaand in Genesis 11:1–9 hoe die ongehoorsaamheid van mense tot vandag se taalverwarring gelei het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх