Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 17

Оглавление

VRYDAG 11 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 9:12–29

Reënboog van genade

“Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde” (Gen 9:16).

GESELSVRAAG: Wat is die kleurvolste ding waaraan jy kan dink?

“Pappa, hoekom is al hierdie ou foto’s van oupa en ouma dan net swart en wit?” “Dit is omdat die wêreld destyds regtig so gelyk het, my kind. Kleur is eers later uitgevind,” maak sy pa hom wys. Dit is gelukkig nie waar nie, hoewel daar ’n tyd was dat jy Model-T Fords net in swart kon koop. (Dit was die enigste kleur wat destyds vinnig genoeg droog geword het.)

“Ons reënboognasie,” het president Mandela graag gesê. “Ek het nog nooit ’n reënboog gesien met swart daarin nie,” het een ou boer gebrom.

Die kleurvolle reënboog het egter ’n boodskap van genade vir ons. Nooit weer sal alle mense op aarde tot niet gaan nie. Dit is dus ’n teken van God se onverdiende liefde. Watter vreugde is dit nie om ’n volledige – selfs dubbele – reënboog te sien nie! Kyk maar vandag om jou, en probeer jou indink hoe dinge sou gelyk het as ons oë nie kleur kon onderskei nie.

Ons wonderlike Skepper en Vader maak die skepping nie net mooi nie. Hy gebruik dit om ons van sy liefde te verseker. Hy gebruik die reënboog, die son, maan en sterre – en selfs mense! Wys iemand vandag hoe lief Hy hom of haar het.

GEBED: “Dankie dat U ons op so baie maniere van u liefde verseker, Hemelvader.”

Lees vanaand in Genesis 10:1–12 waar die verskillende volke van vandag vandaan kom. Almal is familie!

Uit die Beek 2013

Подняться наверх