Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 20

Оглавление

MAANDAG 14 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 11:10–32

Die Messias se voorgeslagte

“Sarai was onvrugbaar; sy het nie kinders gehad nie” (Gen 11:30).

GESELSVRAAG: Wat omtrent jou voorgeslagte maak jou bly?

“Ai, ek is so jammer dat ek nooit my ouers en grootouers oor die voorgeslagte uitgevra het nie,” sê iemand nou die dag. Dit is so interessant om te weet wie jou voorgeslagte is en wat hulle gedoen het. Vir my was dit hoogs interessant om die spoor van die Van Wijks terug te neem tot 1620 toe die vroegste bekende Adriaan in Wijk by Duurstede in Holland gebore is.

“My voorouers was uit die Franse adel in die vyftiende eeu,” spog ’n hoogmoedige vrou. “En joune?” “Nee, ek is bevrees ons rekords het met die sondvloed verlore gegaan,” antwoord haar vriendin met ’n glimlag.

Genesis 1–11 is die voorspel vir God se werk met mense. Ons het vandag van Abram gelees, en hy is die voorvader van Jesus, die Messias. Ons gaan nog baie keer oor hom lees, want die verbond wat God met hom gesluit het, geld tot vandag toe nog. As jy ’n gelowige Christen is, dan is jy ook ’n afstammeling van Abraham (Gal 3:9, 14, 29). Ons moet dus mooi oplet wat ons van Abraham sal leer, want hy is ons voorvader. Dit is van ons familie wat ons hier meer gaan leer! Dieselfde God wat met Abraham en Sara gewerk het, werk ook met ons en ons kinders. Kom ons loof Hom daarvoor! Hy wil ons en ons nageslag gebruik om die wêreld te verander. Niemand hoef kinderloos te wees nie, want ons kan mense help om kinders van God te word. Dan is ons hul geestelike ouers.

GEBED: “Dankie dat U ook na my toe uitreik, liefdevolle Vader.”

Lees vanaand Genesis 12:1–9 en let op die twee kante van die verbond wat die Here met Abraham gesluit het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх