Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 9

Оглавление

DONDERDAG 3 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 2:18–25

Die gelukkige huwelik

“Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word” (Gen 2:24).

GESELSVRAAG: Hoekom is so min huwelike werklik gelukkig?

“Dit is nie goed dat die mens alleen is nie,” (v 18) het ons een seun op sy Skype-bladsy geskryf terwyl sy vrou sonder hom in ander lande moes reis. En hy was die een wat meermale gesê het dat hy nooit wil trou nie, want so min van sy maats is gelukkig getroud. Maar dit was voor hy vir Esther ontmoet het. Vandag is hulle baie gelukkig saam, al moes hulle baie kultuurgrense oorwin. Sy is Sjinees van geboorte! Maar hulle vul mekaar wonderlik aan, en is saam baie vrugbaar in die Here se diens.

Toe die Fariseërs vir Jesus oor die huwelik uitgevra het, het Hy dadelik na vers 24 hierbo verwys (Matt 19:6). Paulus het ook dadelik aan hierdie vers gedink toe die Korintiërs hom oor die huwelik uitgevra het (1 Kor 6:16). Jesus en Paulus het duidelik nie hierdie verse as legendes en mites beskou nie, maar as die gesaghebbende en geïnspireerde Woord van God.

Walter Trobisch wys in een van sy boeke die drie dele van ’n gelukkige huwelik: “verlaat” (openbare huweliksluiting), “aankleef” (liefde en trou) en “een vlees wees” (die seksuele aspek). As ons probleme met een aspek het, moet ons dadelik daaraan werk, sodat ons waarlik saam die beeld van God kan wees.

GEBED: “Here, maak ons huwelik soos U dit bedoel het.”

Lees vanaand in Genesis 3:1–13 hoe die sondeval alles op die aarde beskadig het. Daarom moes Jesus kom om alles te herstel.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх