Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 13

Оглавление

MAANDAG 7 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 5:25–6:4

Genadetyd gaan verby

“Metusalag was dus 969 jaar toe hy gesterf het” (Gen 5:27).

GESELSVRAAG: Wanneer kan ons praat van ’n ontydige dood?

“Was daardie ou mense se jare net so lank soos ons s’n?” wonder ’n vriend nou die dag tydens ’n telefoonoproep. Selfs die 120 jaar van Genesis 6 klink nogal lank in vergelyking met vandag se lewensverwagting. Volgens die CIA se boek van wêreldfeite leef die mense van Macau die langste (gemiddeld 81 jaar) en dié van Swaziland die kortste (gemiddeld 31 jaar). Suid- Afrikaners se lewensverwagting is glo 43 jaar vir mans en 41 vir vrouens. Dit is natuurlik die gevolg van die vigs-pandemie. Dit is die gemiddelde. Baie kinders sterf voor hulle ’n jaar oud is, en ander steek die eeu verby.

Dis interessant om te let dat Metusalag oorlede is in die jaar van die groot vloed. Sou hy dan ook in die oorstromings omgekom het? Dit kan wees, want ons lees dat net Noag en sy kinders volgens God se wil geleef het (Gen 6:9, 12).

Die belangrike boodskap uit al hierdie syfers is seker dat elke mens se lewe net tydelik is. Joune en myne ook. Ons moet dus die beste van elke geleentheid maak om God se wil te soek en te doen (Ef 5:16). Die Here het aan elkeen van ons ’n beperkte tyd op aarde gegee, wat van mekaar verskil (Ps 139:16). Daar is dus nie iets soos ’n ontydige dood nie. En ons kan nie waag om ons bekering uit te stel nie. Eendag gaan dit te laat wees. Gebruik elke geleentheid om van Jesus te getuig (Kol 4:5).

GEBED: “Here, help my om vandag ten volle te benut.”

Lees vanaand in Genesis 6:5–12 hoe die mensdom in sonde verval het. Is ons vandag enigsins beter?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх