Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 11

Оглавление

SATERDAG 5 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 4:17–26

’n Skrefie hoop

“In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep” (Gen 4:26).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons optrede ons kinders seermaak?

“Alle sonde is die gevolg van selfsug,” het professor Paul Krishna eendag teenoor my genoem. Hoe meer ’n mens daaroor nadink, hoe meer is ’n mens geneig om saam te stem. Kain se verskoning ná Abel se moord is ’n toonbeeld van liefdeloosheid. As hy sy straf hoor, dink hy nog steeds net aan homself. Nooit vra hy God of sy ouers om vergifnis nie. Selfs sy nageslag se woorde teenoor sy vrouens wys hoe selfsugtig hierdie geslag was (v 23–24).

“As God ’n deur toemaak, dan maak Hy ’n ander een oop,” hoor ek meermale. In Adam en Eva se geval was dit waar. Hul verkeerde keuse het ook hul kinders geraak. Op een dag het hulle albei hul seuns verloor. Abel is vermoor. Kain is weggejaag van die ander mense af. Sy ouers het alleen agtergebly. En toe kry hulle nog ’n seun: Set. Sy naam beteken “bly woon” of “plaasvervanger”. Met Set het ’n nuwe geslag begin. Uit hom is Noag gebore en uiteindelik ook Jesus Christus, die Messias. God was met Set besig, en in sy leeftyd het hulle weer begin om te bid.

Dalk het jou ouers – of jou kind – jou baie seergemaak. Moenie uit selfsug jou seer vertroetel nie. God gee tweede kanse. Jy kan ’n nuwe lewe saam met Hom begin.

GEBED: “Here, dankie dat my verlede my nie hoef terug te hou nie.”

Lees vanaand Genesis 5:1–24 en let op dat net Set se nageslag genoem word.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх