Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 23

Оглавление

DONDERDAG 17 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 14:13–24

Op pad na die Messias

“Toe het Abram vir Melgisedek ’n tiende van alles gegee” (Gen 14:20).

GESELSVRAAG: Wat kan ons vandag doen om die Here te plesier?

“As jy wil weet waarheen die Here met jou op pad is, help dit soms om terug te kyk op jou pad. Dink aan die bakens langs die pad. Hulle help jou om die regte rigting te vind.” Hierdie wenk van Henry Blackaby help ons ook om te verstaan waarheen die Bybel met ons op pad is.

Vandag weet ons dat dit die wederkoms van Christus is, maar Abraham kon dit nie geweet het nie. Hierdie ontmoeting met die geheimsinnige Melgisedek is egter ’n leidraad wat ons uiteindelik by Christus sal uitbring. Al wat ons van hom weet, is dat hy die koning van Salem was, en ook ’n priester van God die Allerhoogste (v 18). Hy het vir Abram en sy troepe kos en wyn gebring (v 18). Hy het vir Abram geseën en Abraham het een tiende van die buit aan hom gegee. In Hebreërs lees ons weer van hierdie man. Daar word verduidelik dat hy die beeld van Christus, die finale hoëpriester, was (Heb 7:1–28).

Wat kan ons vandag saamneem op die pad om vir ons finale Melgisedek te gaan gee? Ons tiendes? Ja, maar baie meer as dit. Ons liggame? Ja, dit is ook korrek volgens Rom 12:1. Maar elke keer as ons iemand anders help of bemoedig, gee ons die geskenk aan Hom (Matt 25:40). Kom ons maak sy hart vandag bly.

GEBED: “Here Jesus, Hoëpriester, ek wy myself aan u diens.”

Lees vanaand in Genesis 15:1–11 hoe die Here aan die kinderlose Abram ’n nageslag belowe.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх