Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 43

Оглавление

DINSDAG 5 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 27:30–45

Spyt kom altyd te laat

“Pa, het Pa dan net een seën? Seën my tog ook, Pa!” (Gen 27:38).

GESELSVRAAG: Waaroor was jy nog ooit die jammerste?

“Spyt kom altyd te laat,” sê die spreekwoord. En dit is baie waar. Elkeen van ons kan getuig van dinge wat ons gedoen en gesê het, of nie gedoen en gesê het nie, waaroor ons later spyt was.

Esau was nou agterna spyt dat hy sy eersgeboortereg vir ’n pot sop verruil het. Sy ligsinnigheid en swak besluite het nou begin vrug dra. Daarom sien ons hierdie tragiese toneel van ’n groot man wat huil. Isak was net so spyt dat hy uit onkunde alle goeie dinge aan Jakob toegesê het en niks vir sy ander seun laat oorbly het nie. Hy het eintlik bedoel dat Esau alles moes kry, al het die Here reeds voor die kinders se geboorte anders besluit.

Daar lê vandag vir ons allerhande uitdagings en versoekings voor. Ons moet op ons hoede wees om versigtig te praat en mooi te dink voor ons iets doen. Die skade van daardie skerp woord teenoor jou lewensmaat of kind kan jare neem om weer te herstel. Daardie een onbesonne daad kan ons ons lewe lank nog agtervolg. So baie mense het vandag ’n woord van troos of bemoediging nodig. Ons moet ons in hul omstandighede probeer indink.

Gelukkig het die Heilige Gees in ons kom woon om ons in al hierdie moeilike sake te lei. Wees aan Hom oorgegee, sodat Hy deur jou kan werk.

GEBED: “O Heilige Gees, help my dat ek nooit oor vandag spyt hoef te wees nie.”

Lees vanaand in Genesis 27:46–28:9 hoe belangrik dit is om met die regte lewensmaat te trou.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх