Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 31

Оглавление

VRYDAG 25 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 21:1–8

Lag-lag

“God het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag” (Gen 21:6).

GESELSVRAAG: Wat het jou al die heel lekkerste laat lag?

“’n Sendeling het ’n sin vir humor nodig,” het professor Willie van der Merwe graag gesê. Jy sien soveel hartseer dinge en dinge wat jou moedeloos maak. Sommige mense het dan net die gawe om die snaakse in elke gebeurtenis te sien, en dit met lus oor te vertel. Dit is ’n lus om by hulle te gaan kuier, want jy weet jy gaan net die hele tyd lag. Hulle lag vir hulself. By ander mense is dit ’n pyn om te gaan kuier, want hulle kla oor alles. Niks is goed nie. Mense probeer hulle maar vermy. Van watter soort is jy?

Ons lees keer op keer van lag in Isak se geskiedenis. Abram en Sarai het gelag toe hulle die eerste keer hoor dat hulle wel nog ’n kind sal kry. Maar hy het nie opgedaag nie. En nou, toe Abraham 100 jaar oud is en sy vrou 90, daag die beloofde seun eers op. En daar word gelag. Geen wonder dat die seuntjie die naam Isak (lag) gekry het nie. Sou hy self ’n vrolike seuntjie gewees het? (Soms wonder ek waarom sy pa eers 40 jaar later ’n bediende moes stuur om vir Isak ’n vrou te soek. Sou hy dalk vreeslik skaam gewees het?)

Vreugde is een van die vrugte van die Heilige Gees. Die Here het nie bedoel dat ons met lang gesigte moet rondloop nie. Toe, glimlag ’n slag! Ontdek vandag hoe aansteeklik dit is.

GEBED: “Dankie vir die vreugde wat net U kan gee, Here.”

Lees vanaand in Genesis 21:9–21 oor die moeilike tyd wat Hagar en Ismael deurgemaak het, en hoe God vir hulle gesorg het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх