Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 36

Оглавление

WOENSDAG 30 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 24:15–32

Gebedsaak

“Toe het die man gekniel en tot die Here gebid” (Gen 24:26).

GESELSVRAAG: Oor watter ongewone saak het jy al gebid?

“Met baie geloof en gebed sal die grassnyer later vat,” skryf iemand in die gebruiksaanwysings van sy strandhuis. Kan ’n mens dan oor so iets ook bid? Beslis! Dink maar aan die tyd toe jy die motorsleutels verlê het, of jou selfoon soek geraak het, of toe jy gebid het dat Abuja die hoofstad van Kenia moes word, want dis wat jy in die toets geskryf het. Die Here moet seker dikwels glimlag oor die lawwe dinge wat ons in gebed vra – selfs net in skietgebedjies.

Abraham het die regte slaaf uitgesoek om die groot taak te volvoer. Dit was nie sommer net nog ’n opdrag nie. Dit was ’n gebedsaak. Het jy al tot dusver gemerk hoeveel keer hierdie man gebid het? Hy wou die regte vrou kry, en net die Here het geweet wie sy is en waar sy is. Tog is sy gebede letterlik verhoor. Hierdie man het van gebed geweet – hy was ’n bidder met ervaring. En as sy gebed verhoor word, het hy dadelik gekniel om dankie te sê. Die meisie wat aan sy gebed voldoen het, was nie net van die regte familie nie, maar sy was nog mooi ook!

Die kortste versie in die Bybel is die een wat die meeste tyd nodig het om uit te voer: “Bid gedurig” (1 Tess 5:17). Hierdie slaaf het grootgeword in ’n huis waar die huisbaas kon verklaar: “Ek leef naby die Here,” en die slaaf kon dit bevestig, want hy het dit gesien. Hy het daardie voorbeeld gevolg. En ons huismense?

GEBED: “Here, ek wil ook naby U leef en U voluit dien.”

Lees vanaand in Genesis 24:33–48 hoe die slaaf van sy gebede en die verhoring daarvan getuig. Kom ons doen dieselfde!

Uit die Beek 2013

Подняться наверх