Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 29

Оглавление

WOENSDAG 23 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 19:12–26

Moenie wag nie!

“Toe Lot nog talm, het die twee mans hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand gegryp en hulle uit die stad uit gevat, want die Here het Hom oor Lot ontferm” (Gen 19:16).

GESELSVRAAG: Wanneer is die beste tyd om jou te bekeer?

“Wanneer is ’n goeie tyd om jou te bekeer, dominee?” vra ’n katkisant. “Een dag voor jy gaan sterf,” was sy verrassende antwoord. “Maar ek weet nie wanneer ek gaan sterf nie.” “Presies. Daarom sê die Bybel ons moet dadelik reageer as ons God met ons hoor praat” (Heb 4:13–15).

Lot en sy gesin het in hierdie stadium in die stad Sodom gewoon. Hul vriende was almal daar. Die dogters se verloofdes was daar. Daarom was hulle geskok om die engele se boodskap te hoor. Die skoonseuns het dit as ’n poets beskou. Hulle kon gered word, maar het dit afgelag. Lot het nog getalm – dalk wou hulle besluit wat om saam te dra – tot die engele ongeduldig geraak het en hulle uit die stad gesleep en aangejaag het. Lot se vrou was so amper gered – maar toe kyk sy om. Lot was so amper verlore, maar hy is tog gered.

Vandag kry ons ook sulke mense. Sommige vind die geloof in ’n genadige God baie amusant. Ander wil uitstel, of draai terug na die ou lewe. Dit is net dié wat volhard tot by die plek van veiligheid, Jesus, wat gered word.

“Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand 4:12).

GEBED: “Here Jesus, ek kom nou vandag net soos ek is.”

Lees vanaand in Genesis 19:27–38 van die tragiese gevolge van Lot se selfsugtige keuse, vir hom en sy kinders.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх