Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 30

Оглавление

DONDERDAG 24 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 20:1–9

Mensevrees

“Wat jy my aangedoen het, is onbehoorlik” (Gen 20:9).

GESELSVRAAG: Wanneer laas het jy met iemand oor Jesus gepraat?

“Ek is baie kwaad vir my Christen-skoolmaats,” vertel ’n bekeerde Moslem, “want ons het elke dag saamgespeel en hulle het nooit met my oor Jesus gepraat nie. Ons buurman was ’n ouderling in die kerk, maar hy het nie een keer die goeie nuus met my gedeel nie. Selfs toe my maats aangeneem is, is ek na die partytjie genooi, maar nie na die kerk toe nie.” Hy het eers baie jare later deur sy vrou by Jesus uitgekom.

Abraham wou ook nie uit sy foute leer nie. Uit vrees vir Abimelek vertel hy weer die storie dat sy vrou net sy suster is, soos hy in Egipte gedoen het (Gen 12). Die Here het Self die feite aan die koning geopenbaar, en die gelowige moes deur die ongelowige bestraf word oor die manier waarop hy hom in die gevaar gelei het. En toe is dit die ongelowige wat die inisiatief neem om die saak reg te stel! Skande op die huis ...

Kan dit wees dat eendag in die ewigheid daar van ons familie en vriende sal wees wat ons sal aankla omdat ons nooit genoeg vir hulle omgegee het nie? Ons ken die regte pad, maar ons deel dit nooit met ons werknemers of werkgewers nie. Ons praat oor alles met ons vriende, behalwe oor die belangrikste saak van alles – geloofsekerheid. Maak seker dat jy ’n egte geloof het, en word dan ’n aansteeklike Christen.

GEBED: “Here, gee my vandag die kans om iemand te seën.”

Lees vanaand in Genesis 20:10–18 hoe Abraham die verhouding probeer herstel het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх