Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 27

Оглавление

MAANDAG 21 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 17:15–27

Die God van die onmoontlike

“Maar dit is met Isak, die seun wat Sara vir jou oor ’n jaar in die wêreld sal bring, dat Ek my verbond sal nakom” (Gen 17:21).

GESELSVRAAG: Watter uitdaging hierdie week lyk vir jou onmoontlik?

“Tannie Louise is laas Vrydag oorlede. Sy was 100 jaar oud,” het die berig so pas gekom. Min van ons het vriende of familie wat daardie mylpaal bereik het. Dié wat ons van weet, is maar baie swak. Glad nie kandidate om ’n baba in die wêreld te bring nie. So het Abraham op 99 jaar nie juis veel hoop gehad dat hy nog kinders sou hê nie – en veral nie deur die hoogbejaarde Sarai nie.

Ons God is die God van die onmoontlike. Slegs Hy kon die heelal uit niks skep. Die evolusieleer kon dit nog nie verklaar nie. Dink net hoe wonderlik alles beplan is. Hoekom word water minder dig sodra dit begin vries? Sodat die ys bo kan dryf en gou weer kan smelt. Anders sou al die oseane slegs ’n paar meter diep wees en alles verder bevrore wees. Hierdie groot God het Homself aan Abraham openbaar en verduidelik dat sy verbond nog van krag is. Sarai sou ’n seuntjie kry, en die verbondslyn sou deur hom loop. Dit was mos onmoontlik!

Die Bybel is vol onmoontlike dinge: blindes wat weer kan sien, lammes wat loop, dooies wat opgewek word, ’n profeet wat drie dae in ’n vis oorleef – noem maar op! Is hierdie almagtige God dan nie groot genoeg vir jou probleme ook nie?

GEBED: “Here, saam met U kan ek enige uitdaging aanvaar.”

Lees vanaand in Genesis 18:1–15 hoekom Isak so genoem word. Die woord beteken “lag”.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх