Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 35

Оглавление

DINSDAG 29 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 23:10–20

Familiebegraafplaas

“So het die stuk grond met die grot daarop ... oorgegaan na Abraham as begraafplek wat aan hom behoort” (Gen 23:20).

GESELSVRAAG: Waar sou jy graag begrawe wil word?

“O, ek sou darem graag hier begrawe wou word, met hierdie pragtige uitsig op die Bolandse berge,” sê ’n vriendin tydens ’n besoek aan Wellington se begraafplaas. So het ons elkeen seker maar ons finale droomplekkie. Of met so baie grafte wat deesdae geskend en besoekers wat aangerand en beroof word, dink jy dalk eerder aan ’n gedenkmuur. Dit is goed om voor te berei vir die dag dat ons finaal afskeid moet neem. Dit maak dit makliker vir dié wat agterbly. (Is jou testament nog op datum en geldig?)

Vir Abraham was dit baie swaar om van sy vrou afskeid te neem toe sy ná 127 jaar te sterwe kom. Hy het geen vaste eiendom besit nie. Hy was ’n trekboer. Daarom het hy ’n geskikte plek gesoek en gekoop waar Sara – en later ook hyself en sy nageslag – begrawe kon word. Dit is nogal interessant om te lees hoe hulle op tipies Oosterse manier oor die prys van die grond redekawel.

Dit is interessant dat Abraham nie soos ’n plakker die reg in eie hande geneem het en sy vrou sommer net daar begrawe het nie. Hy wou alles reg doen, want God se eer was op die spel. God was met hul gesin op pad. Die verbond het alles verander. Geen wonder dat Abraham vandag nog orals hoog geag word nie.

GEBED: “Here, help ons om voorbereid te wees vir ons sterfdag.”

Lees vanaand in Genesis 24:1–14 die aangrypende verhaal van die biddende slaaf wat vir Isak ’n vrou moes gaan soek.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх