Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 41

Оглавление

SONDAG 3 FEBRUARIE 2013

Lees eers Psalm 85:1–9

Luister en ontvang

“Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien” (Ps 85:9).

GESELSVRAAG: Wat hoop ons om vandag in die kerk te ontvang?

“Asseblief, Here, laat ek tog vandag niks hoor wat my lewe sal verander nie.” Wie van ons sal ooit so bid voor ons kerk toe gaan? God se woord is bedoel om lewens te verander. Ons moet dus verwag dat daar vandag iets gaan gebeur wat ons lewe kan omkeer. As ons nie verander nie, is daar groot fout. Ons het nie gehoor wat die Here vir ons wou sê nie.

Die gebed wat hierdie psalm ons wil leer is: “Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?” (v 7). As jou lewe nuut moet word, beteken dit mos herlewing! As ons dit waag om hierdie psalm te bid, dan bid ons vir herlewing. Daarom gaan dit ook gepaard met sondebelydenis (v 3–5). Dit is net sonde wat kan keer dat die krag van God ongehinderd deur ons vloei. As daardie verstopping weg is, is die kanaal van seën oop. En dit is waarom Jesus na die aarde toe gekom het. Deurdat Hy as mens die sonde van die mens op Hom geneem het, het Hy ons sonde weggeneem. Nou is die kanaal oop.

Ons kan dus met vrymoedigheid vandag kerk toe gaan en verwag dat die Here op die een of ander manier met ons wil praat. Mag sy woorde wortel skiet en ’n oorvloedige oes verseker!

GEBED: “Praat met my, Here, verander my lewe soos U wil.”

Lees vanaand in Psalm 85:10–14 watter wonderlike seëninge saam met herlewing genoem word. Watter van hulle het ons nodig?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх