Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 44

Оглавление

WOENSDAG 6 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 28:10–22

God is hier!

“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie” (Gen 28:16).

GESELSVRAAG: Vertel van ’n keer dat jy van God bewus geword het.

“Dit het ’n uur en ’n half van stilte in die natuur geneem, met net die Bybel oop op my skoot, voor die geborrel in my gemoed begin bedaar het en ek van God se teenwoordigheid bewus geword het,” getuig ’n kollega tydens ’n retraite. Ons is so besig met baie dinge dat ons nie werklik op een Bybelvers kan konsentreer nie. Ander dinge eis ons aandag. Maar as jy jouself dissiplineer om op een ding te konsentreer, dan praat die Here met jou.

Jakob was op vlug in die woestyn. Hier in die stilte en die eensaamheid, met net ’n klip as kopkussing, het hy stil genoeg geword om van God se teenwoordigheid bewus te raak. Hy het nie na God gesoek nie, maar God het hom gevind. Uit genade het God die verbond wat hy met Abraham gemaak het, weer met Jakob herhaal. Dit het veroorsaak dat Jakob die behoefte gehad het om ’n volle tiende aan die Here te gee (v 22).

Ons gaan vandag ’n baie vol dag tegemoet. Baie sake sal ons aandag verg. Maar dit is tog so nodig om elke dag ’n rukkie lank stil te word, om ons weer op God in te stel. Ons het sy leiding nodig in elke besluit wat ons moet neem. Hy wil ons gebruik om ander mense te help en te ondersteun. Ons moet op sy golflengte wees. Orals waar ons vandag gaan, is Hy ook. Luister na Hom!

GEBED: “Here, help my om vandag op baie plekke en baie maniere van u teenwoordigheid bewus te word.”

Lees vanaand in Genesis 29:1–14a hoe Jakob by sy eie bloedfamilie uitgekom het. Wat beteken jou familie vir jou?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх