Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 61

Оглавление

SATERDAG 23 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 41:17–32

God heers

“Wat God wil doen, het Hy aan U meegedeel” (Gen 41:25).

GESELSVRAAG: Wat het die Here oor die toekoms bekend gemaak?

“Hoe kan ons vir die toekoms beplan?” is die vraag waarmee elke sakeman en politikus worstel. As ’n boer maar kon weet wat die weer in die volgende seisoen gaan doen ... Waar is die toekomskundiges? Wat van Siener van Rensburg of Nostradamus? Sal ’n fortuinverteller dalk kan help? Wat gaan die ekonomie maak? Hoe gaan internasionale onrus of rampe ons raak? Gaan hierdie vliegtuig val of hierdie motor in ’n ongeluk betrokke raak? Hoe kan ons gereed maak vir die toekoms?

Die farao het ’n plek in God se groot plan gehad. God wou sy verbondsvolk red. Uiteindelik het dit alles ook met die koms van die Christus te doen. Josef se slawerny en gevangenskap was alles onder God se beheer (Gen 50:20). Nou begin Hy op die hoogste vlak gereed maak dat nie alleen Jakob en sy gesin nie, maar ook duisende ander lewens gespaar kon word. Hy openbaar die toekoms aan die farao – sommer dubbeld – en sorg dat Josef die boodskap kan uitlê.

“Ons weet nie wat die toekoms hou nie, maar ons weet Wie die toekoms hou.” Hierdie week – selfs in die volgende uur – gaan daar dinge gebeur wat vir baie mense dinge onveranderlik gaan verander. Daarom moet ons werk aan ’n lewende verhouding met die Een wat alles weet.

GEBED: “Die toekoms is in u hande, Hemelvader. Help ons om gereed te wees vir wat ook al kom.”

Lees vanaand in Genesis 41:33–44 hoe ’n gevangene tot die hoogste pos verhef is. Kan jy aan ’n onlangse voorbeeld dink?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх