Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 63

Оглавление

MAANDAG 25 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 41:45–57

Uitkoms

“En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef” (Gen 41:57).

GESELSVRAAG: Wat het ons wat ander mense nie het nie?

“Die gevolg van die regering se dom besluite was dat daar glad nie meer kos in die winkels beskikbaar was nie,” vertel iemand uit Zimbabwe. “Boonop was ons geld niks werd nie. Ons het buitelandse geld nodig gehad om kos oorkant die grens te gaan koop.” Dit was ’n tyd van hongersnood en swaarkry vir almal wat nie geld uit die buiteland kon kry nie. Sommige mense is van honger dood.

Soortgelyke toestande het in die grootste deel van die Midde-Ooste geheers. Die droogte het aangehou en daar was nie oeste nie. Mense het gehoor dat daar wel kos in Egipte beskikbaar was en het van heinde en ver gekom om kos te koop. Josef se wyse voorbereidings het gesorg dat daar genoeg kos in die skure was om nie alleen die Egiptenare nie, maar ook die besoekers uit ander lande te help.

Ons het dieselfde ervaring gehad toe mense uit baie ander lande van Afrika na Suid-Afrika gestroom het om kos en geld te soek. Hier het dit beter gegaan as in ander Afrika-lande. Almal wou kom geld maak, en was gewillig om vir min te werk, net om te oorleef. Het hulle ook die evangelie in ons land gekry?

GEBED: “Gee dat elkeen wat ons land besoek, U sal leer ken, Here.”

Lees vanaand in Genesis 42:1–11 hoe die broers onwetend kos gaan soek by die broer wat hulle as slaaf verkoop het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх