Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 64

Оглавление

DINSDAG 26 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 42:12–22

Boemerang

“Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het” (Gen 42:21).

GESELSVRAAG: Vertel van iets in jou lewe wat geboemerang het.

“Ek het my ou boemerang probeer weggooi, maar hy het elke keer weer teruggekom.”

“Wat noem ’n mens ’n boemerang wat nie terugkom nie? ’n Stok.” Hierdie grappies herinner ons dat alles wat ons doen, gevolge het. Uiteindelik kom ons optrede weer na ons toe terug. Wat jy saai, dit sal jy ook oes (Gal 6:7). Dit het Josef se broers ook nou begin ondervind.

Hulle was jaloers op Josef en wou hom sommer doodmaak. Uiteindelik het hulle hom as slaaf verkoop, en hy het lange jare as slaaf en gevangene in Egipte deurgebring. Nou was hy die eerste minister van Egipte en sy broers moes by hom om hulp kom smeek. Hy het natuurlik soos ’n Egiptenaar gelyk en geklink en deur ’n tolk met hulle gepraat. Hulle het nie besef dat hy alles verstaan wat hulle sê nie (Gen 42:23).

Alles wat ons doen, het gevolge. “Die sondes van my jeug het nou weer na my toe teruggekom. Ek het straf gerook en nou is my longe daarmee heen,” vertel ’n swaer wat besig was om aan emfiseem te sterf. Die manier waarop apartheid toegepas is, het vandag nog baie bitter gevoelens agtergelaat. Jongmense en kinders ly nou weens die optrede van hul voorsate, al is hulle self heeltemal onskuldig.

GEBED: “Help my om elke dag reg te lewe, Here, om U te eer.”

Lees vanaand in Genesis 42:23–28 hoe al hoe meer dinge vir die broers verkeerd gegaan het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх