Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 49

Оглавление

MAANDAG 11 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 31:19–35

Draagbare gode

“Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?” (Gen 31:30).

GESELSVRAAG: Wat dink jy van gelukbringers?

“En nou mag ek nie eens meer vir ou Christopher saam met my dra nie!” het haar pa uitgeroep toe hy vies van die kerk af kom. ’n Hollandse katkisant in een van my vorige gemeentes het vertel dat hul priester in Holland baie evangelies was, en dit selfs gewaag het om teen beskermheiliges te preek. Haar pa het ’n medalje waarop St Christopher afgebeeld was in sy beursie gedra om veiligheid op die pad te verseker. En nou kon hy nie meer daarop vertrou nie!

Ragel het haar pa se huisgodjies gesteel sonder dat haar man daarvan bewus was. Hoekom het sy dit gedoen? Het sy hulle as gelukbringers beskou? Of dalk as afbeeldings van hul voorouers? Of wou sy haar pa leer om sonder bygeloof klaar te kom? Was sy dalk nog steeds heidens in haar gedagtes, sodat sy eerder op die afgodsbeeldjies vertrou het as op die onsigbare God? Hoe dit ook al sy, dit het amper haar lewe gekos.

Waar soek ons ons veiligheid as ons op pad gaan? Dit is altyd beter om eers saam te bid en die Here vir veiligheid te vertrou. Maak dit ’n tradisie in jul gesin. Laat jul kinders en gaste besef dat jul vertroue op die lewende God is, en nie op gelukbringers nie. ’n Dooie huisgodjie kan tog nie enige verskil maak nie. Maar as ons op hulle vertrou, is dit tot ons eie skade.

GEBED: “Here, ek vertrou op U alleen om ons vandag veilig te hou.”

Lees vanaand in Genesis 31:36–55 op watter Beskermer Jakob vertrou het. Hoe het hy en Laban hul ooreenkoms beseël?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх