Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 60

Оглавление

VRYDAG 22 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 40:1–23

Teleurstelling

“Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet” (Gen 40:23).

GESELSVRAAG: Wat was jou grootste teleurstelling?

“My dogter was verreweg die beste gekwalifiseer vir die pos, maar die pa van ’n ander meisie het omkoopgeld aan die betrokke amptenaar gegee sodat sy dogter die pos gekry het,” vertel ’n besoeker onlangs. Dit was natuurlik vir sy dogter ’n baie groot teleurstelling. Maar hy was seker dat God alles ten goede sou laat meewerk. Sy dogter sou swaarkry onder so ’n korrupte amptenaar.

Josef was natuurlik baie teleurgesteld toe die skinker dadelik van hom vergeet het. Vir nog twee jaar het hy in daardie gat (v 15) in ellende gebly. Heeltemal onskuldig. Daar was nog lesse wat hy moes leer, en die Here wou ook die omstandighede in die land verander. Op die regte tyd sou die uitkoms kom. Vrugte het tyd nodig om ryp te word. Ons moenie ongeduldig wees nie.

“Niks gebeur per toeval nie,” sê ’n vriend wat swaar tye beleef het. Uiteindelik sal alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet (Rom 8:28). Miskien wag daar vir jou ook teleurstellings vandag of later in hierdie week. Onthou, jou hemelse Vader is nog ten volle in beheer. Al voel dit vir jou asof jou wêreld vergaan, kan jy op Hom vertrou. Selfs die teleurstellings is deel van sy plan. Hou net aan Hom vas, en vertel Hom dat jy Hom ten volle vertrou. Op die regte tyd sal die uitkoms kom.

GEBED: “Here, dankie dat hierdie teleurstellings ook verbygaan.”

Lees vanaand in Genesis 41:1–16 hoe die Here vir Josef op die regte oomblik uit die tronk laat haal het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх