Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 54

Оглавление

SATERDAG 16 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 35:16–29

Kinders van hartseer

“Maar Ragel was aan die sterf en terwyl sy haar laaste asem uitblaas, noem sy die seuntjie Ben-Oni” (Gen 35:18).

GESELSVRAAG: Waarvoor is jy gewillig om te sterf?

“My grootste droom is om eendag as martelaar ’n selfmoordbomdraer te wees,” vertel ’n pragtige dogtertjie in die Midde-Ooste by haar kinderklub. Dit is vir haar die grootste roeping, om soveel ander mense moontlik saam met haar te laat sterf. (Haar imam het haar verseker dat dit die sekerste pad na die hemel is.) Ander sou eerder die droom hê om soveel lewens moontlik te red.

“Gee vir my seuns, anders sterf ek,” het Ragel van Jakob geëis (Gen 30:1). Dit het vir haar oor haar eie eer gegaan. ’n Vrou sonder kinders, veral sonder seuns, is in haar tyd as niks gereken nie. Uiteindelik het sy vir Josef gehad, en tydens die tweede bevalling het sy langs die pad gesterf. Haar wens het letterlik waar geword. Met haar laaste asem het sy die kind Ben-Oni (seun van my smart) genoem. (Dit is deur hierdie geskiedenis dat die stad Benoni ook sy naam gekry het. Baie van die eerste inwoners was Jode uit Oos-Europa wat alles verloor het.) Jakob was egter nie tevrede dat die arme kind so ’n naam moes kry nie, en het hom eerder Benjamin (seun van my regterhand) genoem.

Jy het ook ’n passie. Hoe lyk dit in die lig van die ewigheid? Tel dit vir die hemel? Ons sal niks kan saamneem nie, behalwe mense wat ons na Christus gelei het. Dís vreugde!

GEBED: “Here, gee my ’n passie met ewigheidswaarde.”

Lees vanaand in Genesis 36:1–19 hoe Esau die stamvader van ’n groot volk geword het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх