Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 48

Оглавление

SONDAG 10 FEBRUARIE 2013

Lees eers Psalm 86:1–13

Leergierig

“Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien” (Ps 86:11).

GESELSVRAAG: Wat wil jy nog graag leer doen?

“Sondagskool” het vir ons die gevoel van iets vir kinders. In ons volwasse kinders se gemeente in Wheaton, Illinois, is die Sondagskool ook vir die grootmense. Elke Sondag is daar ’n duisend volwassenes in die verskillende klasse om te leer oor sending of geloofsleer of om intensiewe vers-vir-versstudie van Bybelboeke te doen. Dit was vir ons ’n groot voorreg om in ’n klas van 200 te sit en die studie te geniet. Dit gaan nie net oor kopkennis nie, maar veral oor die toepassing van elke ding wat ons leer.

Dit is Dawid se groot begeerte in vandag se teksvers. Hy wil leer wat die regte ding is om te doen, met die doel om dit te doen! Hy wil daarvolgens wandel (lewe). Hy wil die Here met toewyding dien. En dit is beslis nie net op die rusdag nie, maar veral gedurende die res van die week. Lofprysing is ook ’n groot deel daarvan (v 12).

Miljoene mense is vandag op pad kerk toe om die Here te aanbid. Duisende preke sal gepreek word. Baie mense sal tot bekering kom. Maar dit is nie genoeg om net ’n bekeerling te wees nie – jy moet ’n dissipel wees (Matt 28:19). ’n Dissipel is ’n leerder – iemand wat elke dag die Here al hoe beter wil leer ken, sodat Hy ons lewe kan verander. Is jy ’n bekeerling of ’n dissipel?

GEBED: “Baie dankie vir die voorreg om na u Woord te luister, Here. Maak ons vandag en elke dag u dissipels.”

Lees vanaand Psalm 86:14–17 en kyk hoeveel daarvan jy as ’n Skrifgebed kan bid en dit bedoel.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх