Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 50

Оглавление

DINSDAG 12 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 32:1–12

God se beloftes

“U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie” (Gen 32:12).

GESELSVRAAG: Watter belofte van God het jou lewe verander?

“Hoekom kry daardie taxibestuurder ’n goue huis terwyl ek net ’n gewone houthuisie kry?” wou die leraar by Petrus weet toe hy by die hemel inboek. “My broer, jou preke het mense aan die slaap gesus, terwyl sy bestuursvermoë baie mense leer bid het,” kom die antwoord. Hierdie grappie illustreer die feit wat in vandag se Skrifgedeelte weer uitgekom het. Dit is eers as ’n mens regtig in gevaar is, dat jy begin om ernstig te bid.

Al Jakob se sondes het nou op sy kop teruggekom. Hy het soos ’n skelm die pad gevat na Laban toe, en toe weer van Laban af. En nou hoor hy dat die broer vir wie hy so kwaad aangedoen het, met ’n gewapende mag op pad is na hom toe! Dit kan doodsake raak. En nou het Jakob net een uitvlug: die Here. Hy bely dat hy niks goeds verdien nie, maar hy herinner die Here ook aan sy beloftes. Die verbond met God is al seker ding waarop hy kon vertrou.

Op watter belofte van God maak jy staat? Sy Woord is vas. Ons kan daarop vertrou. Ons moet sy beloftes memoriseer, sodat ons dit enige tyd kan onthou en gebruik. Ons verdien niks nie, maar God se Woord bly ewig staan.

GEBED: “Here, U weet wat vandag wag. Dra my daardeur.”

Lees vanaand in Genesis 32:13–23 hoe Jakob alles waaraan hy kon dink, gedoen het om Esau gunstig te stem.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх