Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 57

Оглавление

DINSDAG 19 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 37:12–27a

Regstellende geregtigheid

“Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put” (Gen 37:20).

GESELSVRAAG: Wat is die oorsake van gewelddadige misdaad?

“Het hulle dan geen gewete nie?” is gevra nadat ekstremiste stralers geskaak en doelbewus in New York se grootste geboue vasgevlieg het. Die antwoord is waarskynlik: nee. Ons kultuur is gebou op reg en verkeerd. Die kulture van die Midde-Ooste is gebou op eer en skande. As jy skande op my volk en my godsdiens bring deur militêre oorheersing, moet ons ons eer en Allah se eer herstel deur geweld en weerwraak waar dit die vyand die seerste maak. (Die Afrika-kulture is weer gebou op mag – amandla – en vrees.)

Die kinders van Jakob kom ook uit die Midde-Ooste. Hul eer is aangetas deur die stories wat Josef aangedra het. Wie is dié snuiter dat hy kan dink hy gaan oor sy ouer broers regeer? En nogal oor sy ouers ook? Dit kan nie geduld word nie. Hul eer kan net herstel word deur Josef dood te maak, al pleit hy ook hoe hard (v 42:41). Ruben het hom probeer red (v 22) maar Josef is uiteindelik as slaaf na Egipte weggevoer.

In die laaste tyd word daar navorsing gedoen oor die redes vir ons land se hoë misdaadsyfer. Hoekom is daar soveel wrede en onsinnige moorde? Korrektiewe Dienste probeer gevangenes rehabiliteer deur “regstellende geregtigheid”. Die gevangene moet besef wat die gevolge van sy dade is, en die slagoffers om vergifnis vra. Slegs vergifnis kan die verhoudings herstel.

GEBED: “Here, wys my waar ek iemand om vergifnis moet vra.”

Lees vanaand in Genesis 37:27b-36 watter hartseer die seuns se optrede vir hul ouers gebring het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх