Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 59

Оглавление

DONDERDAG 21 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 39:1–9

Weerstaan die versoekings

“Hoe kan ek so ’n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” (Gen 39:9).

GESELSVRAAG: Watter tipe versoekings kan ons vandag verwag?

“Ek vermy versoeking tensy ek dit nie kan weerstaan nie,” het Mae West glo gesê. Oscar Wilde het weer beweer: “Ek kan alles weerstaan behalwe versoeking.” Ons kan seker wees dat versoekings (en beproewings) deel van die lewe is. Die groot vraag is hoe ons daarmee gaan handel.

Vir Josef was die versoeking seker baie sterk. Hy was ’n aantreklike jong man vol drifte en drange, en sy werkgewer se vrou het vir hom ogies gemaak. Dit sou tot sy voordeel wees om toe te gee – en dit is darem seker lekkerder as om weerstand te bied. Dit word mos van ’n slaaf verwag om alle bevele te gehoorsaam sonder om teen te praat. Maar Josef het reg grootgeword. Hy het van God geleer. Dit het hom deur hierdie versoeking gehelp. Hy het geweet wat reg en wat verkeerd is. Hy het ook geweet dat alle sonde nie net teen mense is nie, maar ook teen God. Die Here het hom suksesvol in sy werk gemaak, en die Here het hom gehelp om nie toe te gee nie.

Ons sal ook vandag met baie versoekings te doen kry. Die meeste sal begin deur iets wat jy gaan sien (v 7). Dit kan ook herhaaldelik oor jou pad kom om jou weerstand af te breek (v 10). Byt vas. Dit is die moeite werd! Gehoorsaamheid aan die Here gee die beste vrug.

GEBED: “Here, bewaar my teen vandag se versoekings.”

Lees vanaand in Genesis 39:10–23 hoe Josef se getrouheid tot onverdiende straf gelei het. Maar die Here was by hom (v 21).

Uit die Beek 2013

Подняться наверх