Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 53

Оглавление

VRYDAG 15 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 34:13–31

Moeilikheid

“Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land” (Gen 34:30).

GESELSVRAAG: Wat het jou al in groot moeilikheid laat beland?

“Die moeilikheid met moeilikheid is dat dit gewoonlik as pret begin,” het ’n Amerikaner opgemerk. So baie motorongelukke en verwoeste lewens het begin by een drankie, of ’n ligte flikflooiery, of “onskuldige” dwelms. “As ek maar net vooraf geweet het,” begin meer as een treurmare.

Sigem se probleme het begin met die tergery van die oulike meisie langsaan. Hierdie pret het op verkragting uitgeloop. Hy het haar steeds liefgehad en wou met haar trou. Maar dit het uiteindelik die lewens van hom, sy hele familie en al die mans wat by hulle gewoon het, gekos. Dina se slinkse broers het die manne uitgeskakel. En nou was hul pa weer in groot moeilikheid deur die ondeurdagte dade van sy kinders.

Hoe kan ons moeilikheid vermy? “As jy die ou kon skop wat die oorsaak van die meeste van jou moeilikheid is, sal jy ’n week lank nie kan sit nie,” het Theodore Rooseveld by geleentheid gesê. Ons kry so maklik moeilikheid deur iets wat ons gesê of gedoen het, of nie gesê of gedoen het nie. Daarom het ons die Here elke dag nodig. Hy kan ’n wag voor ons mond sit, sodat ons op die regte oomblik niks sal sê nie. En ons voorbidding vir ons kinders kan hulle uit baie moeilikheid hou.

GEBED: “Here, bewaar ons en ons kinders van onnodige probleme.”

Lees vanaand in Genesis 35:1–15 hoe Jakob sy huisgesin gelei het terwyl hy in die moeilikheid was en wat toe gebeur het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх