Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 47

Оглавление

SATERDAG 9 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 30:25–43

Skelmstreke

“Die man het al hoe ryker geword. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad” (Gen 30:43).

GESELSVRAAG: Hoe kan ’n mens op ’n eerlike manier ryk word?

“Boerdery is ’n wetenskap,” het ek vir myself gesê toe ek onlangs by ’n melkboer gekuier het en hy my gewys het hoe noukeurig rekords van elke koei gehou word. Jy moet presies weet wat met elke dier aan die gang is, en streng volgens ’n tydtafel werk. Elke koei moet elke 360 dae kalf of anders moet sy slagpale toe. Jy moet presies weet hoeveel liter melk elke koei lewer. Jy betaal ’n fortuin elke week aan voer vir die beeste en jy is onderdeur as hulle nie produseer nie.

Jakob se wetenskaplike boerderymetodes sal vandag se boere laat lag. “Dinge werk mos nie so nie,” noem ’n medestudent nadat hy hierdie gedeelte in sy stiltetyd raakgelees het. Tog het Jakob se skelmstreke die gewenste uitwerking gehad, en die wit skape het gevlekte lammers gekry. (’n Siniese persoon sal dalk ook nog wonder of daar nie ’n vreemde ram iewers in die prentjie was nie.) Jakob het steeds volgens sy naam, Skelm, gelewe. Dit was eers toe die Here sy naam na Israel verander het, dat hy ook verander het.

Ons kom almal in die versoeking om ons gewete so ’n bietjie tot ons voordeel te rek. Die groot vraag is egter nie wat ons daardeur sal wen nie, maar wat ons daardeur sal word. Oneerlikheid word uiteindelik uitgevang. Dit is altyd beter om bekend te staan as ’n man of vrou van integriteit, al is dit tot ons eie nadeel.

GEBED: “Here, maak my iemand met integriteit.”

Lees vanaand in Genesis 31:1–18 hoe Jakob en sy gesin besluit om weer na sy geboortedorp terug te gaan.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх