Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 56

Оглавление

MAANDAG 18 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 36:20–43

Goeie regering

“Daar het al konings oor Edom geregeer nog voor daar konings oor Israel geregeer het” (Gen 36:31).

GESELSVRAAG: Wat is die beste soort regering?

“Wat ons land eintlik nodig het, is ’n goeie diktator,” skerts ’n akademikus. Hy het opgelet dat demokrasie nie in Afrika werk nie. Die kiesers stem dan net hul eie stam in, sodat die grootste stam al die ander onderdruk. Hierdie selfsugtige gesindheid lei gou tot xenofobie en swak dienste. Dit gaan nie oor wat jy weet of doen nie, maar oor wie jy ken en wat jou afkoms is.

Anders as in ander lande waar die kinders van die koning gewoonlik hul pa opvolg, lees ons vandag iets nuuts. Die konings van Edom het uit verskillende dorpe gekom. Ons lees ook nie van staatsgrepe nie. Hoe is hulle dan gekies? Wie het hulle aangewys? Dit lyk nie of hulle naby familie van mekaar was nie. Dalk sou hulle ons ’n paar dinge kon leer.

In Afrika was daar nog min voorbeelde van leiers wat deur die stembus deur ’n beter regeerder opgevolg is. Die meeste leiers word gou diktators wat geen opposisie duld nie. Dan word hulle met geweld uit die kussings gelig, en dit kos gewoonlik duisende lewens. Ons moet dus bid vir ons eie regering, dat hulle die land met wysheid sal regeer, en dat die kiesers verstandige keuses sal maak. Bid vir die verkiesingskommissie wat moet toesien dat elke verkiesing oop en regverdig is.

GEBED: “Here, help ons regering om reg te regeer.”

Lees vanaand in Genesis 37:1–11 hoekom ons ons kinders eenders moet behandel en klagtes reg moet hanteer.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх