Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 51

Оглавление

WOENSDAG 13 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 32:24–32

Volharding verander mense

“Ek sal jou net los as jy my seën” (Gen 32:26).

GESELSVRAAG: Wanneer is dit belangrik om te volhard?

“Wenners gee nie bes nie,” word by ons ingedril op skool. Ons moet aanhou tot ons die vak of die sport baasgeraak het. Oefen, oefen, oefen daardie musiekstuk tot jou vingers die klawers outomaties vind. Daardie toonlere op die viool kan die luisteraars teen die mure uitdryf, maar dit is nodig as ’n mens die instrument wil bemeester. Doen daardie tikles oor en oor tot jou vingers die regte toetse druk sonder dat jy daaraan hoef te dink.

Jakob het alles gedoen wat hy menslik kon, maar hy het besef dat hy God se hulp nodig gehad het. En daardie nag het hy met hierdie Man geworstel. Sommige mense reken dit was ’n engel (Hos 12:5), en ander dat dit God Self was (v 28). Was dit ’n worstelstryd, of was dit ’n gebedstryd? Vandag is ons nie meer so seker nie. Jakob was egter oortuig dat hy met God te doen gekry het (v 30). Kan ’n mens dan vir God oorwin? Seker tog nie. Maar God gebruik sulke tye van vrees en spanning om ons nader aan Hom te trek. Van nou af sou Jakob mank loop, maar hy het ’n nuwe naam gekry: Israel – prins van God (v 28).

Gaan jy vandag deur ’n moeilike tyd? Byt vas! Die Here is daar by jou om jou te seën, al lyk die nag ook hoe donker. Hy wil vir jou ook ’n prins of prinses maak. Daarom laat hy sulke tye toe.

GEBED: “Here, help my volhard tot ek u seën ontvang het.”

Lees vanaand in Genesis 33:1–8 wat toe gebeur het by die eerste ontmoeting tussen Jakob en Esau.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх