Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 62

Оглавление

SONDAG 24 FEBRUARIE 2013

Lees eers Psalm 88:11–19

Doen dit nou

“Word daar in die graf vertel van u troue liefde?” (Ps 88:12).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons hierdie week van God se liefde vertel?

“Die evangelie is net goeie nuus as dit betyds gehoor word.” Elke dag sterf daar duisende mense. Sommige het al van Jesus gehoor, maar baie het nog nooit van Hom gehoor nie. Sommige het die boodskap geglo, en ander het dit verwerp. Dit bepaal waar ons die ewigheid gaan deurbring. Ons sal nie hierdie boodskap aan dooie mense kan oordra nie. Ons moet dit nou doen. Elke geslag kan net hierdie geslag bereik. Moenie uitstel nie.

In vandag se psalm kla die bidder oor sy siekte. Sy argument is dat God geen lof van hom kan kry as hy doodgaan nie. Hy wil dus in die lewe bly sodat hy God kan loof. Hy wil ander van God se troue liefde vertel. Dooies kan nie daarop reageer nie (v 11, 13).

“Ja, ek gee nie nou my dankoffer nie, maar die kerk is in my testament. As ek sterf, sal die kerk baie kry,” vertel ’n boer. “Ag, nee man, moet tog nie soos ’n vark wees nie. Hy het ook net nut as hy dood is!” was sy ouderling se antwoord. Die Here wil ons elke dag gebruik, nie eers as ons dood is nie. Daarom gaan ons vandag kerk toe om Hom te loof en te prys. Ons word toegerus om hierdie week in sy diens te staan. Daar is duisende mense hier om ons wat die boodskap van God se liefde nodig het. Skryf sommer nou drie name neer, en dink hoe jy die boodskap met hulle gaan deel. Bid elke dag vir hulle tot daardie gebed verhoor word.

GEBED: “Here, gee my die kans om iemand vandag van U te vertel.”

Lees vanaand in Psalm 89:1–11 hoe verbondskinders die Here moet leer ken en sy boodskap moet aangee.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх