Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 55

Оглавление

SONDAG 17 FEBRUARIE 2013

Lees eers Psalm 87:1–6

Kinders van Sion

“As die Here die name van die volke aanteken, sal Hy by elkeen skrywe: ‘Hierdie een is ook ’n kind van Sion’” (Ps 87:6).

GESELSVRAAG: In hoeveel lande is jul gemeente betrokke?

“Dit gaan nie oor ons nie,” moet ons gou leer. Ons is almal net deel van ’n veel groter prentjie. Ons gemeente is deel van nie net een kerkgenootskap nie, maar van die liggaam van Christus. Die kerk van Christus strek oor die hele aarde. Dit is in elke land op aarde te vind. Daarom moet ons help saamwerk sodat elke volk, taal en nasie van Christus moet hoor.

Hierdie psalm is waarskynlik gekomponeer om op pad na Jerusalem gesing te word. As die pelgrim naby die stad kom, en dit daar in die verte op die bergtop sien, was daar groot vreugde. Daardie stad se fondament is op die heilige berg. Dis waar God is. Die een volk na die ander sal Jerusalem as hoofstad erken. Maar Jerusalem in Israel is maar net die voorloper van die eintlike nuwe Jerusalem.

“Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe,” sê Jesus (Op 3:12). In Openbaring 21 lees ons meer van hierdie nuwe Jerusalem, wat plek sal hê vir verteenwoordigers uit elke stam en nasie. Vandag vier ons net die voorsmakie van daardie wonderlike erediens!

GEBED: “Here, wys my hoe ek onbereikte volke kan help bereik.”

Lees vanaand in Psalm 88:1–10 hoe ’n mens in tye van ernstige siekte kan bid.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх