Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 46

Оглавление

VRYDAG 8 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 30:1–13

Wedywering

“Gee vir my seuns, anders sterf ek” (Gen 30:1).

GESELSVRAAG: Aan watter soort kompetisie neem jy graag deel?

“Ek teen my broer; ek en my broer teen die ander kinders in die familie; ons familie teen die ander families; ons stam teen die ander stamme; ons volk teen die ander volke,” het ’n Arabier hul kultuur probeer verduidelik. Wedywering en stryd is die antwoord. Dit kon ook anders gewees het. Kan jy dink aan ’n manier waarop die verhouding tussen die twee susters, Ragel en Lea, byvoorbeeld heel anders kon verloop het? Sou hulle mekaar eerder kon ondersteun as om teen mekaar te wedywer?

Ons lees van heelwat huwelike in die Bybel waar meer as een vrou ter sprake is. En geeneen van hulle was gelukkig nie! Dit is so ver van die Bybelse ideaal van twee mense wat een word (Gen 2:24). Die oomblik dat daar ’n tweede vrou in die prentjie kom, is daar probleme. Veral in die Bybelse tye waar ’n vrou se waarde gemeet is aan hoeveel seuns sy in die wêreld gebring het. Vir Ragel het haar skoonheid niks beteken nie. Sy het geen kinders gehad nie. Sy was dus van geen waarde nie.

’n Mens se waarde word nie in geld, prestasies of kinders gemeet nie. As God jou sy kind gemaak het, is jy ’n prins of prinses. Jy het niks gedoen om dit te verdien nie. Uit genade word ons koningskinders. Ons waarde is meer as die hele wêreld se skatte. Jy kan die wêreld vandag vreesloos in die oë kyk.

GEBED: “Dankie dat U waarde aan elkeen van ons gee, Here.”

Lees vanaand in Genesis 30:14–24 meer oor die wedywering tussen die twee susters.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх