Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 58

Оглавление

WOENSDAG 20 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 38:1–11

Swaershuwelik

“Gaan na jou broer se weduwee toe, jou skoonsuster, en trou met haar, en sorg dat daar kinders gebore word vir jou broer” (Gen 38:8).

GESELSVRAAG: Hoe word weduwees in ons dag versorg?

“In hierdie land het vroue geen regte nie,” hoor ons in die Midde-Ooste. “’n Vrou mag nie motor bestuur nie; sy mag nie uitgaan tensy sy deur ’n manlike familielid vergesel word nie; sy moet gedurig swaar gesluier gaan; sy mag nie vir ’n inkomste werk nie. As sy ’n weduwee word, of geskei word, is daar vir haar geen uitkoms as sy nie familie het wat haar sal versorg nie. Dan moet sy uit prostitusie lewe of van honger doodgaan.”

In die tyd waarvan ons vandag in die Bybel gelees het, was dit nie veel beter nie. Daar is wel voorsiening gemaak dat ’n weduwee met haar swaer mag trou en dus versorg word, of sy moet teruggaan na haar pa (as hy nog lewe). Tamar het dus ’n moeilike tyd deurgegaan. Sy was net ’n besitting. ’n Vrou is net gereken as sy seuns in die wêreld gebring het. Onan wou nie dat Tamar kinders kry nie, want dit sou tegnies sy broer se kinders wees. Deur sy selfsug het hy dus die eer verbeur om een van Jesus Christus se voorvaders te wees. Jesus was ’n afstammeling van Tamar (Matt 1:3)!

Ook in ons tyd is daar baie weduwees en enkelmoeders. Hulle het hulp en versorging nodig. Ons aanvaar so maklik dat hulle regkom, maar dit is nie altyd so nie. Dink ’n bietjie aan dié wat jy ken. Hoe kan jy haar help en bemoedig?

GEBED: “Here, dankie dat U ook vir weduwees en wese omgee.”

Lees vanaand in Genesis 38:12–30 hoe Tamar toe een van die voormoeders van Jesus Christus geword het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх