Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 28

Оглавление

DINSDAG 22 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 18:16–33

Dreigende oordeel

“Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot!” (Gen 18:20).

GESELSVRAAG: Maak dit saak hoe ander mense lewe?

“My God is ’n God van liefde en sal nooit enige mense hel toe stuur nie,” verklaar iemand in die groep. “Ja, my vriend, jy is heeltemal reg, maar dit is jóú god, nie die God van die Bybel nie,” antwoord iemand anders. “Die ware God is liefde, maar Hy is ook heilig. Hy is genadig, maar nie onbeperk genadig nie. Hy is lief vir sondaars, maar Hy haat ook alle sonde en moet dit straf. As jy nie Christus as jou plaasvervanger aanvaar nie, moet jy self jou straf dra.”

Vandag se Skrifgedeelte wil ons herinner dat God se genade ook tot ’n einde kom. Sodom het God so lank getart. Sy inwoners het so goddeloos gelewe dat die geroep daarvan by God uitgekom het. Abraham het besef dat die stad verwoes sou word. Maar hy het vir hulle ingetree in gebed. Ongelukkig was daar nie eens tien mense wat God in daardie stad gedien het nie. Uiteindelik is net Lot en sy twee dogters uit die hele bevolking gered.

Alles wat om ons gebeur, het ook ewige gevolge. Soos Abraham moet ons ook intree vir ons ongelowige bure en medeburgers. Maar uiteindelik sal hulle die onvermydelike gevolge van hul keuses moet dra. Sonde is nie iets om mee te speel nie. Die loon van die sonde is nog steeds die dood (Rom 6:23).

GEBED: “Wees ons genadig, Here, en red ons mense van die hel.”

Lees vanaand in Genesis 19:1–11 waar die woord ‘sodomie’ vandaan kom.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх