Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 24

Оглавление

VRYDAG 18 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 15:12–21

God kom in donker tye

“ ... angs, ’n groot donkerte het hom oorweldig” (Gen 15:12).

GESELSVRAAG: Wanneer het jy geestelik die meeste gegroei?

“Hoe verwerk jy jou kind se dood?” vra ek die plaaslike prokureur. Sy seuntjie van sewe het breinkanker opgedoen, en ten spyte van baie gebede en mediese behandeling is hy tog oorlede. Ek was bang dat hierdie trauma ’n bitterheid sou agterlaat. “Dit was die tyd dat ons geestelik die meeste gegroei het,” was sy antwoord. Hy het ontdek dat die Here hom nie verlaat het nie, maar dat Hy by hulle was deur die donkerste dieptes.

Abram het ’n soortgelyke ervaring gehad. Die oggend baie vroeg – die sterre het nog geskyn – het die Here wonderlike beloftes aan hom gemaak. Sy kinderloosheid sou verander in vrugbaarheid, en ’n hele volk sou die resultaat wees. Die Here het hom ook aangesê om sekere offers voor te berei. En toe alles gereed was – dit het die hele dag geneem – word dit donker om hom en hy voel beangs. En toe praat die Here met hom.

Ons almal ervaar soms donker tye, dat jou finansies verkeerd loop, of ’n ramp jou tref, of tye van ernstige siekte, of ’n ongelukkige huwelik, of kinders wat jou teleurstel. Jy verloor jou werk en jou huis, en amper jou vrou en kinders ook. Moenie skrik nie. Die Here gebruik soms sulke tye om met ons te praat. Wees gewillig om te luister. Vertrou die Here dat alles ten goede sal meewerk.

GEBED: “Dankie dat U ook in donker dae met ons besig is, Here.”

Lees vanaand in Genesis 16:1–9 hoe Abram en Sarai kortpaaie wou loop, en watter hartseer dit veroorsaak het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх