Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 40

Оглавление

SATERDAG 2 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 26:12–22

Ruimte

“Toe noem hy die put ‘Ruimte’, ‘want,’ het hy gesê, ‘nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees’” (Gen 26:22).

GESELSVRAAG: Waar sou jy graag meer ruimte wou hê?

“Ruimte” is die naam van ’n plaas aan die grens van die Namib-woestyn. As jy voor die plaashuis staan, strek die plaas in alle rigtings so ver as wat die oog kan sien. Dalk het die boer aan hierdie Skrifgedeelte gedink toe hy die naam gegee het. Die dorp Rehoboth, in Namibië, het sy naam ook aan hierdie geskiedenis te danke. “Die ruimte is nie ver nie,” verduidelik ’n NASA-wetenskaplike. “Jy kan met jou motor binne ’n uur daar wees, indien jy loodreg na bo kon ry. Die lagie lug om die aarde waarin die wolke beweeg, is ongeveer 17 km dik, en die ionosfeer eindig maar iets soos 80 kilometer van ons af.”

Vir ’n trekboer is water baie belangrik, en daarom lees ons so baie van die putte wat Isak se manne gegrawe het. Die aarde was oop en het aan almal behoort, anders as vandag, en al die veeboere het maar agter weiding aan getrek. Selfs vandag is daar nog mense wat hierdie soort bestaan voer, en daarom is dit moeilik om hulle met die evangelie te bereik as jy nie saam met hulle kan trek nie.

“In die huis van my Vader is daar baie woonplek” verduidelik die Here Jesus in Johannes 14:2. So, al besit ons nooit op aarde ’n huisie van ons eie nie, maak dit nie saak nie. Ons eintlike huis word mos reeds voorberei. Daar is genoeg plek.

GEBED: “Dankie vir die ruimte wat U vir ons skep, Here.”

Lees vanaand in Genesis 26:23–35 hoe mense konflik kan oplos en hoe Berseba (put van eed) sy naam gekry het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх