Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 34

Оглавление

MAANDAG 28 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 22:15–24

Die seën van gehoorsaamheid

“In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam” (Gen 22:18).

GESELSVRAAG: Hoe kan ons vir al die nasies tot seën wees?

“Mag ek Andrew Murray se kerk van binne sien?” vra ’n Koreaanse besoeker aan Wellington. Dit blyk toe dat hy as dwelmsmokkelaar in ’n Sjinese tronk tot bekering gekom het deur die lees van een van Andrew Murray se boeke wat in Sjinees vertaal is. Die Here het sy lewe omgekeer en vandag is hy ’n kerkleier in Korea. Andrew Murray se graf en kerkgebou was vir hom ’n heiligdom, want dit was die instrument wat die Here gebruik het om hom in die koninkryk in te bring. So gebruik die Here sy kind nog steeds ’n eeu later om mense te seën.

Vir Abraham was dit ’n geweldige beproewing om sy geliefde seun te moet afgee. Maar hy was nietemin gehoorsaam. God het eerste in sy lewe gekom. En die uiteinde was dat die Here hom kon gebruik om miljoene mense meer as drieduisend jaar later te kon seën. Hy is vandag nog die held van elke Christen, Jood en Moslem. En deur hom het die Messias gekom wat aan die kruis die pad na vergifnis kom oopmaak het.

Wil jy ook vir alle nasies tot seën wees? Gee jouself onvoorwaardelik aan die Here oor. Deur jou gebede, jou gawes en jou getuienis kan jy ook vir baie ander mense tot seën wees. Miskien wil Hy jou vandag nog gebruik.

GEBED: “Hier is ek, Here, gebruik my vandag in u diens.”

Lees vanaand in Genesis 23:1–9 hoe Abraham ’n familiebegraafplaas bekom het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх