Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 25

Оглавление

SATERDAG 19 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 16:10–16

God sien my

“U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het” (Gen 16:13).

GESELSVRAAG: Wanneer het jy gevoel dat God van jou vergeet het?

“All men should strive to learn before they die what they are running from, and to, and why,” lui James Thurber se skerpsinnige gediggie.

“Wat op aarde maak ek hier?” het op ons gemeente se hempies gestaan toe ons die 40 dae-kursus oor ’n doelgerigte lewe gedoen het. Toe ek dit eenkeer in die supermark dra, vra die dametjie agter die toonbank my: “Weet meneer nie wat jy hier kom maak het nie?” Dit het my darem die geleentheid gegee om die vyf belangrike dinge te verduidelik wat die Here van ons elkeen verwag.

Hagar het ’n ellendige lewe gehad. Sy was net ’n besitting. Sy is as byvrou gegee sonder dat sy enige keuse gehad het, en toe sy swanger word, is sy mishandel. Sy het gevlug, maar langs die pad het ’n engel haar voorgekeer en teruggestuur. Sy het besef dat die Here haar raakgesien het, al het ander mense niks van haar gedink nie. En sy het haar seuntjie Ismael – die Here sal hoor – genoem.

Daar kom tye in ons lewe dat ons ook voel dat almal ons miskyk. Die regte lewensmaat daag nie op nie. Die maats by die skool vermy jou. Jy word oor die hoof gesien vir bevordering of verhoging. Weet dan: Die Here sien en hoor jou. Hy ken jou en het jou lief. Hy weet alles, en sal dit tot ’n seën vir jou maak.

GEBED: “Dankie dat U ons elke oomblik van hierdie dag sal sien, Hemelvader.”

Lees vanaand in Genesis 17:1–14 hoe God sy verbond met die bejaarde Abram hernuwe.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх