Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 26

Оглавление

SONDAG 20 JANUARIE 2013

Lees eers Psalm 82:1–8

Die groot Regter

“Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld, want al die nasies behoort aan U” (Ps 82:8).

GESELSVRAAG: Watter onreg sien jy raak?

“Wat het korrupsie, misdaad, slegte regering, oneerlike regters of swak wetgewing met die kerk te doen?”

Ons is so geneig om Sondae bymekaar te kom, die Here te loof, na ’n preek te luister en dan weer huis toe te gaan tot volgende Sondag. Die kerk het niks met Maandag tot Saterdag te doen nie.

Die kerk is egter nie ’n gebou nie – dit is die versameling van gelowiges. Die kerk is nie net daar op Sondae nie, maar elke dag van die week. Die kerk gebruik die paaie elke dag, boer op die plase, staan agter winkeltoonbanke, werk in die fabrieke, dien in die staatsdiens of munisipaliteit of werk in die howe. Die kerk is ook in die stadsraad en die parlement. Die kerk is ook nie net in Suid-Afrika nie, maar in elke land op aarde, of daar nou godsdiensvryheid is of nie. Dit is ook baie wyer as net ons kerkgenootskap. Alle gelowiges saam vorm die liggaam van Christus op aarde.

Wanneer laas het jy vir die regters en landdroste gebid? Hét jy al ooit, of kla jy net oor hul swak uitsprake? Hulle is mense net soos ons, en het baie gebede nodig sodat reg kan geskied. Bid dus vir die prokureurs vandag, en die polisie, die staatsaanklaers, klerke en advokate. Moenie die weermag en korrektiewe dienste vergeet nie.

GEBED: “Ons bid vandag vir almal wat die reg moet laat geskied.”

Lees vanaand in Psalm 83:1–19 hoe ’n gelowige in ’n tyd van verdrukking gebid het. Let op sy motivering.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх