Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 39

Оглавление

VRYDAG 1 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 25:12–34

Waardeer jou voorregte

“Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop” (Gen 25:33).

GESELSVRAAG: Watter voorregte waardeer ons nie altyd nie?

“Dit is ek wat daar loop, as dit nie vir God se genade was nie,” het DL Moody glo geantwoord toe iemand hom vra hoekom hy soveel tyd vir boemelaars het. Die minderbevoorregtes is vir die meeste van ons ’n pyn. Ons is nie bly as hulle by ons deure kom aanklop om hulp nie. Maar wat het ons gedoen om bevoorreg te wees? Het jy jou ouers gekies? Jou voorregte om geleerdheid en ’n goeie opvoeding te kry? Soveel seëninge wat ons onverdiend ontvang het? Gesondheid en verstand? Waardeer ons werklik ons voorregte?

Esau het ook besondere voorregte geniet. Hy was sy pa se witbroodjie. Hy is toevallig ’n paar minute voor sy boetie gebore, en as eersgeborene sou hy dus ’n dubbele erfporsie kry, volgens die gewoonte van daardie tyd. Maar hy het dit nie waardeer nie, soos ons in vandag se gedeelte gelees het. ’n Pot sop was vir hom op daardie oomblik meer werd. Eers baie later het hy besef wat hy gedoen het en lang trane oor sy verlies gehuil.

As jy iets het, mis jy dit nie. “Geld is nie alles nie,” sê iemand wat nog nooit in sy lewe honger was nie. Ons waardeer nie ons sig of gehoor of gesondheid voor ons dit verloor nie. Kom ons tel ons voorregte, en dank God dan daarvoor.

GEBED: “Dankie vir al ons onverdiende voorregte, Hemelvader.”

Lees vanaand in Genesis 26:1–11 hoe Isak dieselfde fout as sy pa gemaak het en wat die uiteinde was.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх