Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 33

Оглавление

SONDAG 27 JANUARIE 2013

Lees eers Psalm 84:1–8

Krag vir elke dag

“Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan” (Ps 84:6).

GESELSVRAAG: Wanneer gaan jy graag kerk toe?

“Minder as ’n derde van ons lidmate gaan nog Sondag kerk toe,” het ’n ondersoek bevind. Hoe kan dit dan wees? Het hulle dan nie op die dag toe hulle in die openbaar hul geloof bely het, belowe om getrou te wees nie? Kan dit wees dat hulle nie die eredienste sinvol vind nie? By die gemeente waar ons kinders in die VSA inskakel, is die kerkbywoning Sondae drie maal hul lidmaattal. Hulle moet drie oggenddienste hou, want hul kerkgebou kan net ’n duisend mense op ’n slag hanteer. Hul Sondagskool vir volwassenes is stampvol. Hulle ondersteun meer as 200 sendelinge. Hulle doen iets reg.

Die digter van hierdie psalm het gevoel dat die eredienste vir hom baie gehelp het. Dit was ’n plek van vreugde (v 3). Dit was die plek waar mense krag gekry het vir die week wat voorlê (v 6). Die lofliedere het in hul koppe gedraai en hulle het dit elke dag gesing (v 5). Fonteine van seën het met hulle gegaan waar hulle ook al gaan (v 7). Dit het nie oor die gebou of die preke gegaan nie, maar oor die Here wat hulle daar saam met die gelowiges ontmoet het (v 6).

Het jy krag nodig vir die week wat voorlê? Daar is mos ’n plek waar ons dit kan kry. As jy die week saam met die Here begin, kan dit nie anders as om ’n wonderlike week te wees nie.

GEBED: “Here, vandag het ek U baie nodig vir die week wat voorlê. Rus my toe vir elke uitdaging wat moontlik wag.”

Lees vanaand in Psalm 84:9–13 hoe ons verhouding met die Here die lewe die moeite werd maak.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх